STAD KAAPSTAD MOET HIERDIE SOMMETJIE MAAK
Die blootstelling wat Stad Kaapstad gekry het met die vertoon van die Junior Wêreldbeker-rugbytoernooi se wedstryde op TV aan die internasionale gehoor moet sekerlik vir hulle (as ‘n toeristebestemming) baie beteken. ‘n Mens wonder wat sal die sommetjie wees indien jy Stad Kaapstad se uitgawes vir groot sokkertoernooie in die Wes-Kaap opweeg teenoor Stad Kaapstad se uitgawes vir hierdie rugbytoernooi. En hoeveel reklamewaarde het Stad Kaapstad vir die sokkertoernooie gekry, vergeleke met wat Stad Kaapstad kry vir hierdie Junior Wêreld-rugbytoernooi? Dan is die groot belegging van Stad Kaapstad in sokker teenoor sy klein belegging in rugby mos nie goeie besigheid nie!
LEKKER OM DIE WP JONGES IN AKSIE TE SIEN
Dis lekker om te sien dat daar ‘n hele aantal WP-spelers in die begin15-tal van die Jong Bokkies is: Dillen Leyds (heelagter), Kobus van Wyk (senter), Tshotsho Mbovane (vleuel), Handre Pollard (losskakel) en Steven Kitshoff (stut), Ook die WP se Oliver Kebble (stut) sal op die bank wees.
Sterkte manne vir vannaand se wedstryd!
ONS IS TROTS OP JOU JEAN
Dis ‘n veertjie in die hoed vir die WP dat die Bok-afrigter Heyneke Meyer vir Jean de Villiers vir die hele 2012-seisoen as kaptein van die Springbokke aangewys het.
Jean is ‘n speler met karakter. Hy is ook ‘n leier op en van die veld. Jy maak ons in die WP-unie baie trots, Jean!
SPRINGBOK-VROUESPAN SPEEL OP GOODWOOD
Daar is verskeie spelers van die WP ingesluit in die Springbok-vrouespan wat Saterdag (om 14:00) teen die Nomads-span sal uitdraf op die Goodwood-veld.
Janine Felix (senter van UWK), Natasha Hofmeester (vleuel van die Maties), Celeste Adonis (flank van die Maties) asook Nedene Botha (haker van die Maties) is almal vir die Bokspan gekies, Nosipho Pswa (UWK) is een van die reserwes.
KLUBRUGBY
Baie geluk aan Durbanville/Bellville wat vanjaar die wenners is van die eeste ronde-kompetisie in Superliga A. Welgedaan Durbies!!
Hierdie naweek vind daar 2 wedstryde in Superliga A plaas; Belhar pak vir Villager en SK Walmers het die gedugte taak op CityPark wanneer hulle teen Hamiltons uitdraf.
In Superliga B is die groot stryd hierdie naweek die ene tussen Helderberg op sy tuisveld teen NNK. Verlede naweek het Helderberg vir Bellville afgestof en Helderberg sal dus met groot vertroue vir NNK pak.
STERKTE PIETER
Dit is interessant om te sien dat Pieter de Villiers (voormalige Springbok-afrigter) die pos aanvaar het as direkteur van rugby by die UWK-klub.
Ek hoop van hare dat hy die UWK-klub tot groot hoogtes sal lei. UWK het as rugbyklub nie gevorder soos daar gehoop is nie. Die talent is daar, maar UWK se sportleiers beur baie kere in verskillende rigtings.
Pieter sal die raakpunte moet vasvat as hy UWK tot groter hoogtes in rugby wil lei.
HOE OM LEKKER PRYSE TE WEN
Klubs (en Elsiesrivier is ‘n goeie voorbeeld vir ander) wat op-en-wakker is kan heelwat voordele ontvang in die “Vodacom I Love WP Club Rugby”kompetisie.
Klubs kan op verskeie maniere punte verwerf in hierdie kompetisie soos rugbytruie, reënbaadjies, togsakke en waterbottels.
Hierdie projek is vandeesweek geloods en Elsiesrivier het onmiddellik daarna punte verdien danksy blitsvinnige reaksie van Alice Michael van die Elssiesrivier-klub.
Sy het die volgende aksies uitgevoer om punte vir Elsiesrivier te verdienL
• Stuur foto’s en “video clips”van die klub na www.ilovewpclubrugby.co.za (2 punte)
• SMS klubs se naam na 32715 (5 punte)
• MMS foto’s na 082 0080916 (5 punte)
• Registreer vir M-Pesa
• Skuif jou foon na rooi (Vodacom) – 50 punte.
Rugbygroete
Herman Abrahams