Community Site
HomeFixturesLogsResultsLinksNewsClub InfoGallerySite infoSocial MediaThank a refCape Rugby TVSign InChat Zone
 
News > Klubrugby speel groot rol in gemeenskap

Klubrugby speel groot rol in gemeenskap

09/08/2012

'‘n Rugbyrubriek deur Mr H

SALUUT AAN ONS VROUE

Dit is Donderdag Nasionale Vrouedag en ek wil vandeesweek hulde bring aan al die vroue in ons land (toevallig is Donderdag ook my verjaardag – so daar is heelwat om te vier in die Abrahams-huishouding!).

 
As deel van die Vrouedag-feesvieringe word daar Donderdag op CityPark ‘n groot rugbytoernooi  deur die WP Rugby-unie aangebied. Ongeveer 500 vroue sal die dag in aksie wees. Benewens die senior vroue sal ook  hoërskole-spanne in aksie wees, terwyl die laerskole-spanne aan ‘n sewes-toernooi sal deelneem. Die WP-unie is ook baie trots op die prestasies van sy vroue-rugbyspanne.

Die WP-vrouespan het vanjaar ‘n uitstekende begin gemaak in die nasionale toernooi deur in hul openingswedstryd af te reken met die kampioene, die Bulle. Daarna het die WP-span ook vir die “Blouoog-meisies van SA Rugby” die OP-span ‘n drag slae gegee. Die WP-span se volgende wedtryd is op 18 Augustus wanneer hulle teen SWD speel en op 1 September pak hulle die span van Grens.
Alle sterkte aan die WP-span onder die kapteinskap van Natasha Hofmeester van die Maties. Ons ondersteun julle al die pad.
Die puik vertoning van die WP se o.16-meisiespan by vanjaar se nasionale jeugtoernooi gedurende die wintervakansie getuig dat vrouerugby gesond en sterk in die WP is. Die WP juniorspann was onoowonne tydens hierdie toernooi.

WAT ‘N WONDERLIKE ATMOSFEER BY ELSIESRIVIER
Ek het weer diep onder die indruk gekom oor hoeveel klubrugby vir ‘n gemeenskap beteken toe ek die afgelope naweek die wedstryd tussen Elsiesrivier en UWK bygewoon het.
Die feit dat Elsiesrivier die haas onmoontlike reggekry het om die onoorwonne span van UWK te kon klop, het sekerlik ‘n groot rol gespeel in die wonderlike en feestelike atmosfeer wat by Elsiesrivier-rugbyklub geheers het gedurende die wedstryd en daarna.
Dit was vir my werklik ‘n riem onder die hart om te kon sien hoeveel moeite die lede van die Elsiesrivier-klub gedoen het om hierdie rugbydag so ‘n groot en lekker geleentheid te maak. Vroue-ondersteuners van die Elsiesrivier-klub het selfs oulike tuisgemaakte plakkate gemaak om hul span te ondersteun. Die feit dat lede van ander klubs wat in dieselfde liga speel ook die wedstryd bygewoon het en ook tot laat lekker saam gekuier het rondom die braaivleisvure het vir my gewys hoe hulle die rugby en samesyn geniet het.
Die voorsitter van die Elsiesrivier-rugbyklub, Jerome Steyn, sy bestuurslede asook die hele klub en sy ondersteuners verdien ‘n kloppie op die skouer vir hul bruisende geesdrif vir rugby.  Ook moet die naam van Alice Michaels uitgesonder word vir haar uitstekende kommunikasie-werk vir die Elsiesrivier-klub. Dit was ook interessant om te verneem dat Leon Faro en sy vrou die afgelope 7 jaar die eerstehulp-werk behartig by die Elsiesrivier-klub.

UWK MOET HIERDIE LES LEER
Wat die wedstryd self betref, meen ek dat daar ‘n les was vir UWK. Hulle het ‘n hele paar strafskoppe aan die einde van die wedstryd gekry, maar in plaas daarvan om na die pale te mik, het hulle bewegings op tou gestuur wat nie op punte uitgeloop het nie. Dis wel baie verdienstelik om hardloop-rugby te speel, maar die harde rugbyles is – vat jou punte; kom voor op die telbord; en dan kan jy hardlooprugby speel.

DURBIES IS WEER TERUG OP WENPAD
Durbanville-Bellville het gewys sy onlangse nederlaag teen Tygerberg was slegs ‘n tydelike insinking toe hulle die sterk span van die Maties verlede naweek in ‘n opwindende stryd getroef het.
Tygerberg het self vasgeval toe die Vics hulle op Stellenbosch geklop het.
Belhar het met ‘n oorwinning oor Valsbaai hul posisie op die punteleer verstewig en sal graag op die sege wil voortbou.
Met ‘n lang naweek op hande is daar nie juis baie klubwedstryde geskeduleer vir die naweek nie.
Daar is ‘n sterk moontlikheid dat die Ikeys hul wedstryd teen Durbanville op Donderdag sal speel en dit behoort ‘n harde stryd te wees.
Aanstaande Woensdag speel die Maties tuis teen Belhar, terwyl Hamiltons op sy tuisveld teen die Vics sal uitdraf.

REUSE-STRYD HIERDIE VRYDAG
In Superliga A word Vrydag ‘n reuse-stryd verwag wanneer twee van die voorlopers Helderberg en NNK mekaar pak.
Helderberg is tans die stewige voorloper in die liga met  56 ligapunte na 12 wedstryde en hulle behoort die gunstelinge te wees, maar NNK gaan ‘n harde neut wees om te kraak op sy tuisveld.
Beide NNK en Eersterivier het albei 47 ligapunte na 13 wedstryde, maar hul ander statistieke verskil geweldig baie.
NNK het met 454 punte aangeteken en Bellville slegs 325.  Daarteenoor het NNK 230 punte afgestaan vir ‘n punteverskil van 224. Bellville het 286 punte afgestaan en hul totale punteverskil is slegs 39 en dit wys hoe hard hulle vir seges moes werk.
Op Saterdag pak Hands & Hearts vir Brackenfell, terwyl Kuilsrivier tuis teen Goodwood sal speel.

KRAAI KRUIP NADER
In Premierliga A het Elsiesrivier se sege oor UWK gemaak dat Kraaifontein nader gekruip het aan die studente se voorloper-posisie op die punteleer.
UWK het na 11 wedstryde 50 ligapunte en Kraaifontein 48 na 12 wedstryde.
In hierdie liga vind daar drie wedstryde die naweek plaas.  Elsiesrivier speel tuis teen St Georges, terwyl Hamlets vir Kraaifontein pak. Scottsdene het die moeilike taak om vir UWK op laasgenoemde se tuisveld die stryd aan te sê.

KOP-AAN-KOP
In Premierliga B is dit nog steeds ‘n resies tussen Sir Lowrians en Macassar vir die nommer 1 plek.
Macassar het 48 ligapunte na 12 wedstryde en Sir Lowrians 46 ligapunte na 11 wedstryde.
In hierdie liga pak Van der Stel op Vrydag vir Sir Lowrians op hul tuisveld. Saterdag speel Franschhoek tuis teen Eersterivier, terwyl Macassar op sy tuisveld in aksie is teen Lagunya.

DANKIE AAN AL DIE ONDERSTEUNERS
Die 2012 Vodacom Super Rugby-seioen is verby. Ek will graag van die geleentheid gebruik maak om vir al die duisende ondersteuners van die DHL Stormers baie dankie te sê vir hul ondersteuning week na week. Nuweland het weer eens die  grootste getal toeskouers gehad in hierdie reeks  en dit wys hoe warm die harte klop van rugbyondersteuners in die WP.
Ook wil ek baie dankie aan die ondersteuners sê dat hulle gehoor gegee het aan die oproep om nie teenstanders uit te jou wat na die pale toe skop nie. 

BOKKE IN AKSIE OP NUWELAND
Springbokrugby is om draai en aanstaande Saterdag speel die Bokke op Nuweland teen die Argentyne. Veels geluk aan Siya Kolisi en Juan de Jongh wat opgeneem is in die Springbok-groep vir die komende rugbyreeks. Ons sien sommer baie uit na die Nuweland-toets.

JONG SPANNE MOET WERK AAN KONSTANTHEID
Hierdie naweek begin die Curriebeker-seisoen vir 2012 en die DHL WP se eerste wedstryd is Saterdag wanneer hulle vir die Sharks pak. Dit gaan ‘n taai stryd wees maar  ek hoop dat die WP op ‘n hoë noot sal begin.
Ook sal die WP se o.19 en o.21-spanne in aksie wees.
Beide spanne het die seisoen baie goed begin, maar daarna was hulle effe wisselvallig. Ek hoop dat hulle week na week konstante vertonings sal lewer. Dit is vir die WP-unie baie belangrik dat sy o19 en o.21-spanne ‘n groot krag in SA rugby moet wees, want ‘n unie se jong spelers is die fondament waarmee die toekoms gebou moet word.

SEWES-TOERNOOI KOM
Ten slotte – die WP Rugby-unie gaan in die begin van Oktober ‘n sewesrugbytoernooi vir klubspanne aanbied. Hopelik sal heelwat talent navore tree tydens hierdie toernooi.

Rugbygroete
Herman Abrahams

Bookmark this page to:Add to Yahoo Bookmarks Add to Facebook Add to Ask Add to Delicious Add to Twitter Add to StumbleUpon Add to MySpace Add to Google Bookmarks

Sign in


News
 

New - One price ADSL R169.00 - GET IT! - Cybersmart Internet Service Provider.

This web site uses Kentico CMS, the content management system for ASP.NET developers. Western Province Club Rugby