Natuurlik was dit ‘n grapjas geweet wat die gek geskeer het, en hoewel my hart seer was na die WP se nederlaag was daar darem ook nog plek oor om lekker te kon lag vir sulke skerp humor.
KEPADISA LOOP SOOS ‘N REUS….Saterdag speel die WP teen die Luiperds op Nuweland en ek glo en hoop dat die Streeptrui-span weer op die wenpad sal kom.
Ook in aksie Saterdag is die o.19 en 21-spanne van die WP.
Die WP se o.19-span is nog onoorwonne in die nasionale o.19-kompetisie. Die span se bestuurder, Titus Kepadisa, mag klein van postuur wees maar die span se prestasies, maak dat hy regop en trots loop en Kepadisa se bydrae tot die span se sukses is glad nie gering nie.
Die Luiperds (met Pukke Universiteit as hul kernspelers) se o.19 en 0.21-spanne is sterk spanne en hulle sal die WP kwaai teenstand gee.
So kom dus vroeg na Nuweland op Saterdag en ondersteun die WP se jong spanne.
JUNIORS GAAN SLAG WYS IN SEWES….Op Vrydag 17 September vind die Tygerberg-rugbyklub se sewes toernooi vir junior spanne plaas.
Altesame 32 spanne sal in aksie wees. Die toernooi begin om 14:00 en die eindstryd sal omstreeks 20:30 afskop.
Hoërskool Excelsior is die verdedigigende kampioene, maar hulle kan veral sterk teenstand verwag van HS Tygerberg wat in verskeie sewestoernooie vanjaar blink vertonings gelewer het.
ONS WIL HOOR VAN JUL FUNKSIES, KOMPETISIES…Klubs wat graag wil hê ons moet hul funksies en kompetisies op die WP-klubrugby se webtuiste promoveer moet dit doen deur hul inligting vir ons (die WP-unie) te stuur Die beste is stuur ‘n epos na habrahams@wprugby.co.za.
KRY EERS TOESTEMMING……Van toernooie gepraat - alle klubs en skole wat toernooie wil aanbied moet eers vooraf toestemming kry van die WP-Rugbyunie. Skeidsregers sal slegs blaas indien toestemming van die WP-unie verkry is.
LOTTO – EK HOOP OP SUKSES….Die Lotto-aansoeke sluit Vrydag (môre) en ek hoop al die klubs het betyds hul aansoeke ingestuur en dat hulle suksesvol sal wees.
WP AMATEURSPAN HET TAAI STRYD WAT OP HOM WAG……Die WP Amateurspan is steeds onoorwonne. Die WP-span het op Queenstown, onder moeilike omstandighede, vir Grens Platteland-geklop.
Die WP Amateurspan kom Vrydagaand in Brookside teen die sterk span van Oostelike Provinsie te staan. Die wedstryd skop om 19:45 af en dit gaan ‘n taai stryd wees.
KLUBSPELERS GAAN FIKSER RAAK…..Klubspelers van die WP gaan volgende seisoen sterker en fikser wees.
Danksy ‘n projek van die WP-unie, die SA Sport- en Wetenskap Instituut (danksy ‘n borgskap van die Lotto) gaan klubspelers voortaan wetenskaplik hul kan voorberei vir die rugbyseisoen.
Op 11 Oktober sal verteenwoordigers van klubs uitgenooi word om meer te hore te kom van hierdie program.
By hierdie geleentheid sal Rassie Erasmus, hoofafrigter van die WP-unie, ‘n praatjie lewer en die belangrikheid van top-kondisionering vir rugbyspelers onder loep neem.
Altesame 30 klubs van Superliga B, Premierliga A en Premierliga B sal uitgenooi word om aan hierdie projek deel te neem.
Spelers van hierdie klubs sal gratis getoets word en ook kondisioneringsprogramme kry.
Spelers sal hierdie kondisioneringsprogramme deur die somer moet volg en hulle sal net voor die seisoen begin weer getoets word.
Die kondisioneringsprogramme sal spesifiek gerig wees op die behoeftes wat van spelers verwag word in verskillende posisies in die span.
Daar is ook ‘n sterk moontlikheid dat klubs ‘n spesiale aanbod vanaf Virgin Active sal ontvang ten opsigte van hul lede om daar te oefen. Samesprekings hieroor is tans aan die gang.
Vir meer inligting oor hierdie projek kontak vir Faizel Felton by die WP-rugbyunie (083 – 2359276).
‘n STERK BOODSKAP AAN KLUBSPELERS…Klubspelers wat werklik indruk maak sal vorder in rugby. Die Ikey-senter, Brache is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Na puik vertonings vir die Ikeys is hy deur die WP-keurders gekies om vir die WP-Curriebekerrugby te speel.
So moenie moed verloor nie, as jy werklik goed genoeg is sal jy hopelik jou kans kry!
STELLENBOSSE KLUBS SKOP VIR R1 000 NA DIE PALE…Spelers van twee Stellenbosse klubs, Van der Stel en Coronations, sal Saterdag op Nuweland die geleentheid om na die pale te skop in Die Burger se gewilde skopkompetisie. R1 000 is op die spel vir die wenner.
Rugbygroete
Herman Abrahams