Community Site
HomeFixturesLogsResultsLinksNewsClub InfoGallerySite infoSocial MediaThank a refCape Rugby TVSign InChat Zone
 
News > 2012 is ‘n goeie jaar vir WP-rugby

2012 is ‘n goeie jaar vir WP-rugby

18/07/2012

‘n Rugbyrubriek deur Mr H

STORMERS MAAK ONS TROTS
Welkom terug aan al die lesers.  Ekself het ‘n kort vakansie gehad, maar dis lekker om  weer terug te wees en rugbysake met julle
te bespreek.

Ek wil vandeesweek se rubriek begin deur aan die DHL Stormers te sê – welgedaan manne.  Julle het ons onsettend trots gemaak met die feit dat julle as die nommer 1-span geëindig het in die Super 15 se ligakompetisie.  Dit is ‘n fenomenale prestasie en beteken letterlik dat die Stormers vanjaar die top-span was tydens hierdie ligakompetisie.
 

 

Ek weet die Stormers moet nog oor die hekkie kom van ‘n halfeindstryd voordat die eindstryd wag, maar as ons op die huidige boeke vat oor rugby in die WP is die opsomming tot dusver kort en kragtig:
• Ons WP Vodacom-span was vanjaar die kampioene in die Vodacom-liga;
• Die Stormers het no. 1 geëindig in die Super 15-kompetisie;
• WP se skolespanne (vanaf o.13 tot 0.18) het puik vertoon tydens die nasionale jeugtoernooie.

Hierdie is resultate wat wys dat die WP-unie ‘n goeie toekoms bied vir jong spelers wat hul merk in rugby wil maak.  Daarom was dit vir my ‘n bietjie dik vir ‘n daalder om te bly lees in die koerante oor ‘n jong speler of twee van die WP wat groener weivelde gaan soek in die noorde.
My vraag is – is daar groener weivelde buitekant die grense van die Wes-Kaap? 

STERKTE VIR DIE HALFEINDSTRYD
Nou wag die halfeindstryd vir die Stormers.  Dit is gaan g’n maklike taak wees om die halfeindstryd te wen nie, maar die hele Stormers-span en personeel moet weet – ons in die WP staan bankvas agter julle.  Julle het ons as unie baie trots gemaak vanjaar.  Alle sterkte en sukses met jul voorbereiding vir die halfeindstryd.

WP SE SKOLESPANNE HET BAIE SUKSES BEHAAL
Die WP se skolespanne het puik gevaar by die afgelope jeugtoernooie wat gedurende die wintervakansie gehou is.
• Die WP se o.13 Cravenweekspan het 3 uit 4 wedstryde gewen;
• Die WP o.13 Vyftiental het 2 uit 3 wedstryde gewen;
• Die WP se o.16-span was onoorwonne tydens die nasionale Grant Khomo-toernooi;
• Die WP se o.16 meisies was ook onoorwonne tydens die o.16 meisietoernooi;
• Die WP se o.18 Akademiespan was onoorwonne tydens die nasionale Akademietoernooi;
• Die WP se o.18 Cravenweekspan het 2 uit 3 gewedstryde gewen.
Opsommend – ‘n goeie dag op kantoor vir WP-skolerugby!
Ek wil ook die geleentheid gebruik om elke speler, al die afrigters, bestuurspanlede asook die WP-jeugrugbyafdeling geluk te wens met die WP se goeie prestasie tydens hierdie toernooie.  Die WP-unie is trots op julle!

NAZIEM WAS ‘N RUGBYMAN IN MURG EN BEEN
Ek wil ook in vandeesweek se rubriek hulde bring aan Naziem Kriel wat onlangs oorlede is.  Nazieman was ‘n rugbyman  in murg en been en hy was vir meer as 40 jaar die spil waarom die Primrose-klub gedraai het.  Sy bydrae tot rugby was geweldig groot en hy het altyd die ekstra tree geloop.  Sy gereelde bydraes tot nuusbriewe was ‘n sprekende voorbeeld vir sy toegewydheid aan rugby.  Naziem as ook ‘n uitvoerende lid van die WP-rugbyunie se skolekomitee.
Ek wens sy familie asook die Primrose-klub alle sterkte toe met die heengaan van hierdie groot rugbyman.

DINGE RAAK INTERESSANT
Klubrugby in die WP is al ver gevorder en dinge staan einde se kant toe.
Ek wil weer eens vir al die spanne wat in die eerste ronde-kompetisies bo-aan hul ligas geëindig het, baie gelukwens.  Wel gedaan!.
Ek wil spesifiek vir die wenners van die eerste ronde in Superliga A, Durbanville/Bellville uitsonder.  Die Durbies-span handhaaf nou ‘n onoorwonne rekord wat vir etlike weke strek.
Einde September wag ‘n groot hoogtepunt vir Durbanville-Bellville wanneer hulle die WP-unie sal verteenwoordig by die SA Klubkampioenskappe.  Kom ons hoop dat die Durbies-span sal “peak” gedurende daardie week en met groot sukses aan die toernooi sal deelneem.
Gedurende die res van die klubrugbyseisoen gaan die wedywering skerp toeneem.  Die boonste spanne sal wil sorg dat hulle onder die eerste twee eindig in die liga, terwyl die onderste spanne sal wil opskuif sodat hulle nie sal eindig as een van die laagste 2 spanne in die liga nie.
Kom ons gaan kyk watter spanne is tans bo-aan die ligas en watter spanne bevind hulle onder die agterosse.

TOP 2-SPANNE:
• Superliga A –  Durbanville-Bellville, Hamiltons
• Superliga B – Bellville, Helderberg
• Premierliga A – UWK, Kraaifontein
• Premierliga B – Sir Lowrians, Macassar
• Afdeling 1 – Manenberg Rangers, Northens
• Afdeling 2 – Atlantis, Blue Jets
• Afdeling 3 – Masi, Young Ideas
• Afdeling 4 – Imiqhayi, Thistle
• Paarl-streek – Vineyard, Laer Paarl

LAASTE TWEE SPANNE:

• Superliga A –  Villager,Tygerberg
• Superliga B –  Goodwood, Pniel/Villagers
• Premierliga A – Elsiesrivier, Young Peoples
• Premierliga B – Milnerton, Stellenbosch/Coronation
• Afdeling 1 – Young Wesleys, Young Stars
• Afdeling 2 – Watsonia, Temperance
• Afdeling 3 – Perseverance, Young Brothers
• Afdeling 4 – Cities/Progress, Delft
• Paarl-streek – Simondium, Perel United

KLUBS REIK UIT NA HUL GEMEENSKAP
Die drie klubs, Noordelikes, Stellenbosch/Coronations en St Georges  doen wonderlike gemeenskapswerk met die sopkombuise wat hulle aanbied vir arm mense van hul omgewing.  Dit is ‘n pragtige gebaar van hierdie rugbyklubs om so uit te reik na hul gemeenskappe en die projek het die volle ondersteuning van die WP-rugbyunie.
My wens is dat hierdie uitreikaksie ook vir ander klubs sal inspireer om in hul gemeenskappe sosiale projekte van stapel te stuur.  Die WP-unie sal so ver moontlik help om verdienstelike projekte te ondersteun.

‘N KYKIE TERUG NA 20 JAAR GELEDE
Eenwording in die WP-rugbyunie het 20 jaar gelede plaasgevind.  Dit is daarom dus toepaslik om ‘n bietjie terug in die geskiedenis te gaan om te gaan kyk wat het in daardie jaar gebeur in die WP-rugbyunie.

Die volgende klubs was in 1992 die wenners van die eerste ronde-kompetisie:
EERSTE LIGA
Groep 1 – afdeling A:  Bellville;   afdeling B – Noordelikes TK;
Groep 2 – afdeling A  Stellenbosch Cravens;  afdeling B –Harbour Island Gordonsbaai;
Groep 3 – afdeling A: Violets;  afdeling B- Brackenfell;
Groep 4 – afdeling A – Elsiesrivier;  afdeling B – Young Peoples.

TWEEDE LIGA:

Groep 1 – afdeling A -  Ikeys 2;  afdeling B- Villager 2
Groep 2 – afdeling A – Franschhoek 1; afdeling 2 – Goodwood 2;
Groep 3 – afdeling A – Hands & Heart/Wollves 2; Gardens (Paarl) 2;
Groep 4 – afdeling A – Victor Verster 2; afdeling B – Macassar 2.

HIERDIE MANNE WAS IN 1992 WP SE RUGBYLEIERS
Wie was die manne wat die leisels gevat het met bestuursake in die WP-rugbyunie in 1992?
Die WP se uitvoerende komitee vir 1992 het bestaan uit:
Ronnie  Masson (president), Yusuf Patel (vise-president), Herman Abrahams, Koos Basson, Edward Visser, John Cupido, Nqweniso Maneli, Butch Watson-Smith, Dougie Dyers, Ben Groepes, Jannie Engelbrecht, Achmat Stuart, Piet Muller, Sas Bailey, Dawie Snyman, Rafiq April, Tobie Titus, John Gainsford, Francis Mellish en Lungile Daba (sien oo foto van die uitvoerende komitee van 1992-komitee).


Rugbygroete

Herman Abrahams

Bookmark this page to:Add to Yahoo Bookmarks Add to Facebook Add to Ask Add to Delicious Add to Twitter Add to StumbleUpon Add to MySpace Add to Google Bookmarks

Sign in


News
 

New - One price ADSL R169.00 - GET IT! - Cybersmart Internet Service Provider.

This web site uses Kentico CMS, the content management system for ASP.NET developers. Western Province Club Rugby