Dit sal vir wonderlik wees as ons weer ‘n finaal kan aanbied – veral vir die toeskouers. Die Stormers en WP se ondersteuners is die lojaalste ondersteuners in die land en hulle ondersteun die Stormers en WP in goeie en slegte tye (die bywoningsyfer van Nuweland is die beste in die land vir beide die Super Rugbykompetisie sowel as die Curriebeker – en dit onderstreep my sagte plekkie vir die lojale Nuweland-toeskouers),
Ek gaan Saterdag saam met die duisende skree – Go Stormers Go!!!
KOM VROEG EN ONDERSTEUN DIE WP JONGES
Die WP se onder 19 en o.21-spanne is Saterdag in voorwedstryde op Nuweland in aksie teen die Bulle. Beide WP-spanne het hul 2012-seisoen op ‘n hoë noot begin toe hulle stewige seges behaal het oor die sterk spanne van die Leeus. Ek doen ‘n beroep op die ondersteuners – kom vroeg na die stadion en gee ons jong spelers jul ondersteuning.
MOOI GEDOEN WP-VROUE
Die WP se vrouespan het ook gewys dat hulle nie terugstaan vir die Bulle nie en die WP-span het hul onlangse wedstryd teen die Bulle met 18-10 gewen. Mooi gedoen en baie geluk!!
KLUBRUGBY NUUS
In Superliga A het Tygerberg ‘n soete sege oor Valsbaai gesmaak, maar die span van Florida Park het nog ‘n baie lang paadjie om te loop as hulle buitekant die relegasie-sone wil kom.
Durbanville-Bellville storm voort en het hul 12de agtereenvolgende sege behaal.
Die magtige Matie-rugbymasjien maak egter hierdie week ‘n terugkeer en dit sal interessant wees om te sien hoe die Maties vaar na hul lang winterslapie.
SUPERLIGA B…. Bellville, een van die spanne wat sterk staan om onder die eerste twee spanne op die punteleer te eindig, het teen Kuilsrivier vasgeval en die Bellville-span sal vinnig weer aan die wenkant wil kom.
Helderberg staan steeds sterk as voorloper in hierdie liga.
Goodwood en Pniel/Villagers het hierdie seisoen al ‘n paar dapper vertonings gelewer, maar hulle bevind hulle tans in die relegasie-sone en hulle sal vinnig moet seges behaal anders wys ook die rooi vlag vir hulle.
PREMIERLIGA A
UWK is weer terug in die liga nadat die studente lank vakansie gehou het. Kraaifontein is tans die voorloper in die liga, maar as UWK hul vorm van die eerste ronde kan voortsit behoort hulle binnekort weer die nommer 1-span te wees.
PREMIERLIGA B
Dis is ‘n stryd tussen die Titane! Dis omtrent ‘n goeie beskrywing vir die groot wedywering tussen die buurspanne, Macassar en Sir Lowrians, in hierdie liga vir die nommer 1-posisie. Verwag ‘n spannende stryd tussen die twee spanne tot die einde van die seisoen. Franschhoek, Van der Stel, Milnerton en Stelcor is die spanne wat hulle in die relegasie-sone bevind. Ek moet egter byvoeg dat Van der Stel heelwat verbetering getoon het na ‘n swak begin.
AFDELING 1
Noordelikes het indrukwekkende vertonings die afgelope tyd gelewer en hulle beklee tans die tweede plek op die punteleer na Manenberg. In Afdeling 2 is Atlantis en Blue Jets die voorlopers met Violets kort op hul hakke. Masi en Imiqhayi is die voorlopers in afdelings 3 en 4.
PAARL STREEK
In die Paarl-streek is Vineyard die voorlopers met Laer Paarl die span wat in hul hakke blaas.
VROUE-AFDELING
10 ronde wedstryde is afgehandel en die Maties is tans die liga-voorloper met Busy Bees en United Brothers in die volgende plekke.
Alle sterkte aan die spanne vir die res van die seisoen. “Dit is nou tyd vir uithaal en wys!”
BESTE WENSE VIR MOSLEM GEMEENSKAP
Ek wil my beste wenste oordra aan ons Moslem-gemeenskap vir hul maand van Ramadaan. Mag dit vir almal ‘n geseënde tydperk wees.
Rugbygroete
Herman Abrahams